Saterdag 30 Junie 2018
Liewe almal,
Vandag het ons in in 3 groepies verdeel en elke groepie het spesifieke take gehad. Danie, Neels en Barnie is na die Niquide kerkgeboutjie toe (150km) om presiese mates en fotos te neem vir die voltooiing van die gebou. Ds Attie, Johnny en Marietjie is na Milange toe (175km) om met die Moderamen van die Tumbine Sinode te vergader en die oorblywende vier nl Hannes, Hanlie, Andrie en Evellynn het al die inkope gedoen en meeste van die sortering vir die twee spanne se vertrek die volgende dag.
Die vergadering met die Sinode was baie sinvol. Sake soos die oorlewingshulp aan sekere predikante, Fernando Alfredo se sendingreise en die Niquide kerkgebou is o.a. bespreek. Mosambiekse medewerkers wat deel gaan wees van die uitreik het saam teruggery.
Drie spanlede, Neels, Danie en Barnie vergesel deur pastor Fernando Alfredo, het vandag deurgery na die kerk wat in aanbou is by Nquide. Hulle doel was om te gaan kyk wat nog aangekoop moet word om die kerk te voltooi. Die kerkie is op dakhoogte en die dakkappe kan nou bestel en afgelewer word. Sodra die laaste van die binnemure gebou is kan die dakkappe en die dak opgesit word en kan die kerk voltooi word.
Die gemeente het hard gewerk om die pad na die kerk oop te maak deur die lang gras kort te kap. Die gevolg hiervan was dat Danie en Neels die gras onder die voertuig moes verwyder, altans dis hoe Danie die lywe onder die kar verduidelik het, ds Attie betwyfel hierdie verduideliking...
Die gemeente was baie bly om ons te sien en het, as blyk van waardering, vir ons ‘n hoender en rys aangebied, wat ons met dankbaarheid aanvaar het. By die groep se aankoms by Bernadette se huis, waar die res van die span hard aan die pak was vir die volgende deel van die uitreik, het Evellyn sumier belsuit dat die hoender Diana moet heet omdat die hennetjie Royalty is en dat Diana voortaan in Bernadette se hoenderhok sal woon.
Vanaand het ons hoender gebraai en was die Mosambiekse medewerkers asook Bernadette Jansen van die Creche ons gaste. Na ete het ons almal saam bybelstudie gedoen en Bernadette het getolk van Engels na Portugees.
Die waentjies en bakkies is reeds gepak en ons beplan om moreoggend vroeg te vertrek. Die span gaan dan in twee verdeel sodat ons in totaal oor die volgende 7 dae vier wyksgemeentes gaan bedien.
Hier volg ’n paar fotos:







