Uit die pen van sr Marie Venter


 Uit die pen van sr Marie Venter

Sedert die Corona-virus die wêreld bewolk het, het ‘n stortvloed van inligting/boodskappe op my selfoon neergestort, sekerlik op almal wat selfone het.   Een wat my nogal bybly sê opgesom, die volgende:  die sportgod word omgeklits, stadiums en arenas is gesluit; die mat word onder die geldgod uitgepluk, ekonomieë is op hul knieë;  oefenslawe se gimnasiums is toe;  intelektueles is in hulle ivoortorings toegesluit;  drinkevriende se kuierplekke is gegrendel;  plekke van aanbidding is agter slot en grendel.
Wat is gelowiges se reaksie?  

Hulle reis na binne!  Gesinne doen gesinsdinge:  bak koekies, olie krakende deure in die huis, doen saam Bybelstudie!  Alleenlopers verlustig hulle in hul binnekamer in hul ou vriende:  boeke;  en doen ongesteurd Bybelstudie; mediteer en tree in vir ‘n verwarde, angstige w
êreld.

Hierdie onsekerheid kan nog langer as 16 April aanhou maar ons hou vas aan ons Verlosser en Koning se Woord:  Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My.   In hierdie wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed.   Ek het die wêreld klaar oorwin – Joh. 16v33.