Geskryf deur Nadine : Poortpos 12 Februarie 2021

 

"Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot eer van die Here, almal op aarde!" Psalm 96:1
 
Psalm 96:1 het 'n dieper betekens in hierdie afgelope 3 maande vir my gekry. Weens die Covid-19 pandemie is ons beperk tot plekke waarheen ons kan gaan en dinge wat ons kan doen. Dus was en is dit belangrik dat ek tyd in my stokperdjies belê. In April 2019, toe ons in Japan aangekom het, het Kiyoko san, een van die dosente hier by KTRS (kweekskool) vir my 'n kitaar gegee. Ongelukkig het die kitaar vir meer as 'n jaar stof opgegaar. Nietemin, gedurende 'n "whatsapp" video oproep het my vriendin van Suid-Afrika vir my gevra waarvoor sy vir my kan bid. Onder andere het ek vir haar gevra om te bid dat die Here vir my 'n begeerte sal gee om kitaar te leer speel. Die Here het die gebed honderdvoudig beantwoord. Ek kan eerlik getuig dat ek oornag 'n begeerte om kitaar te leer ontvang het. 
Ek en Elmar het toe saam besluit om gereeld liedjies in Japannees te leer en vidoes daarvan te maak. Ek glo die Here kan ons liefde vir sang nie net in Japan nie, maar ook wanneer ons in Suid-Afrika kom kuier gebruik tot Sy eer. Soos Psalm 96 ons beveel, wil ons met suiwer motiewe 'n nuwe lied tot eer van die Here sing. Ek het al verskeie kere in my lewe ervaar hoe aanbidding in sang my hart, gemoedstoestand en gedagtes vernuwe. Van my mooiste herinneringe uit my kinderjare was toe ek saam met my gesin koortjies by huisgodsdiens kon sing. Ek is ook baie dankbaar om saam my liefste man te kan sing. Ek dink gereeld aan die voorreg wat ek het om met 'n man getroud te wees wat Jesus lief het, my sending hart en liefde vir Japan deel. Nou is my hart ook gevul met dankbaarheid dat ek my liefde vir sang saam hom kan deel. Dis besonders om nou liedjies in drie tale , Afrikaans, Engels en Japannees saam te kan sing. Indien u toegang tot Facebook het, kyk gerus na ons liedjies wat ons op ons Facebook profiele plaas.
 
BETREKKING BENODIG
David Makananisi, sendeling van Cyferskuil, se dogter het haar N5 behaal in elektriese ingenieurswese asook 'n sertifikaat in rekenaarvaardigheid.  Sy benodig 'n betrekking en indien u weet van iemand wat haar in diens kan neem kan u asb met haar kontak maak as volg:
Sharon Makananise - 068 109 8122 (Telkom) of 082 623 5084 (Vodacom).  Met groot dank!