Missie Japan

 

Op 15 Maart het ons, ons laaste Japannese klas in die Gemeenskapsentrum in Sanda gehad.  Gedurende ons laaste klas het ons 'n kort toespraak gedeel oor  '頑張たこと" wat vertaal kon word as "Ek het my beste gedoen".  Ons het ook 'n Japannese aanbiddingslied gesing.  Na ons twee jaar saam met ons onderwysers, Otsuki san en Ohara san studeer het, het 'n nuwe seisoen in ons Japannese-studies nou aangebreek.

 

Ons is egter nie klaar met die taalstudies nie, beide ek en Nadine sal voortgaan met ons Japannese-taalstudies deur selfstudie en twee keer 'n week se aanlynklasse.

 

Ons studies saam met juffrou Kitagawa kom tot 'n einde.

 

Dit is regtig met hartseer harte wat ons na twee jaar se taalstudies totsiens moet sê aan juffrou Kitagawa.  Volgende week op 28 Maart is ons laaste klas.  Natuurlik sal ons kontak met haar behou.  Ons dink dikwels terug aan die eerste paar maande van taalstudies toe ons letterlik niks verstaan het wat sy passievol vir ons probeer verduidelik het nie.  Dit was voorwaar 'n wonderlike reis wat ons op 'n plek gebring het waar ons vandag haar verduideliking van grammatika en uitleg oor die korrekte skryf van kanji, beter kan verstaan.  Soms kan ons selfs met haar oor ingewikkelde kwessies soos politiek of wêreld kwessies gesels.

 

Ons kan net dankie sê vir die Here wat ons in Sy soewereiniteit met 'n juffrou soos Kitagawa geseën het.  Ons bid opreg dat die Here haar sal bereik met die evangelie.  Ons sal aanhou vir haar bid.  Selfs as 'n ongelowige het sy bygedra tot ons bediening in Japan deur een van die sleutelpersone te wees wat ons gehelp het om Japannees te leer en wat ons goeie insig in die Japannese kultuur gegee het.