Nuus van Missie Japan

 

Konnichiwa Nuusbrief 2021

 

Liewe ondersteuner,

Die kleurtema van ons nuwe nuusbrief is pienk, die kleur van die Sakura-blommetjie wat tydens lente hier in Japan blom. Ons hoop dat hierdie helder kleur van nuwe lewe 'n bietjie vreugde in elkeen se dag sal bring!

 

Ons kan elke dag sien hoe die Sakura-blommetjies aan die bome vermeerder en hoe die koue in Japan begin breek. Met elke nuwe blommetjie, bring dit weer nuwe hoop in ons harte.

 

Met hierdie hoop en gevoel van nuwe lewe, stuur ons met vreugde in ons harte vir julle 'n nuwe nuusbrief.

 

Groot Nuus!

Geskryf deur Nadine

 

As 'n vrou sê dat sy groot nuus het, dink almal dat sy swanger is, maar ek is ongelukkig nog nie swanger nie. Alhoewel my begeerte om mamma te word daagliks toeneem, is dit nié die goeie nuus nie.

 

Ons nuwe huis, waar ons vir die volgende twee jaar sal vestig na afloop van ons besoek aan Suid-Afrika later vanjaar, is op 23 Februarie tydens 'n vergadering met predikante van die Shikoku-Ring en lede van die Missie Japan komitee bevestig.

 

ONS GAAN TOKUSHIMA TOE!

 

Die Tokushima gemeente, het toe die gesprek opkom by die Shikoku-Ring, hul hand opgesteek en gesê dat hulle ons graag by hulle wil hê. Is dit nie wonderlik nie?

 

Nog meer, Tobie en Annalie de Wet, sowel as Stéphan en Carina van der Watt met hulle gesin, het voorheen as sendelinge in hierdie presiese gemeente gedien. Wat beteken dat Tokushima gemeente baie ondervinding met buitelandse sendelinge het. Ons, saam met Stéphan, Carina en hul kinders sal in Mei-maand Tokushima gemeente besoek. Dit sal ons eerste besoek aan

Tokushima wees. Ons amptelike datum van vestiging in Tokushima is tans 1 Desember 2021.

 

DV Augustus sal ons Suid-Afrika vir drie maande besoek. Ons sien daarna uit om saam met familie, vriende, kerke, predikante en getuienisbediengsgroepe tyd te spandeer.