Konnichiwa Nuusbrief : uit Poortpos van 14 Mei 2021
Liewe ondersteuner,
In ons vorige nuusbrief was ons
tema-kleur pienk, hierdie maand se nuusbrief tema-kleur is groen. Dit is die oorheersende kleur wat ons rondom
ons sien soos dit somer word. Groen
blare, groen gras en berge gevul met groen bome. Vanuit ons woonstel op die 4de verdieping van
die kweekskool het ons 'n pragtige uitsig van die berge.
Hierdie nuwe seisoen simboliseer
groei en dit is ons gebed, nie net vir ons nie, maar ook vir elkeen van julle,
dat julle sal groei in julle wandelinge met die Here.
Soos altyd is dit vir ons 'n
groot voorreg om vir julle 'n nuusbrief te kan skryf. In God se bekwame Hande geskryf deur
Nadine. Soms voel dit asof sendingwerk
in Japan baie ingewikkeld is. Lewe in 'n
eerste wêreldse land, met hoë onderwysstandaarde, met hoofsaaklik een taal, wat
miskien een van die moeilikste tale ter wêreld is, 'n geïsoleerde lewe en die spanning wat gepaard
gaan met vreemdelingskap in 'n monokultuur, laat sendingwerk in Japan regtig
ingewikkeld voel. Al hierdie faktore kan
enige sendeling, insluitend onsself, baie onbekwaam laat voel.
Dit is egter deur my vriendskap
met 'n dame wat ons gemeentedienste bywoon, maar wat nog nie 'n belydende
Christen is nie, by wie ek 'n baie waardevolle les geleer het. Die les van nederigheid, 'n omgee-hart en
bloot net jouself wees, kan die sleutel wees wat iemand se hart tot 'n
vriendskap oop maak. Dit kan lei tot 'n
geleentheid om die liefde van Jesus aan die persoon te wys.
Hierdie dame het tydens ons
maandelikse damesbyeenkoms met trane in haar oë gedeel dat sy baie eensaam en
depressief was voordat sy kerk toe gekom het.
Sy het ook gedeel dat sy by ons weeklikse breigroep groot warmte en
liefde ervaar. Sy vertel dat sy liefde
en vriendelikheid van almal in die kerk ervaar.
Sy is waarlik soekend na Jesus en ek bid dat Sy Hom as haar Verlosser
sal leer ken. Ek het geleer dat geen
mate van onderwys, taalvermoë of enige aansienlike beeld iemand se hart kan
ontsluit nie, maar eerder dat opregte liefde, aanvaarding en omgee die sleutel
tot 'n hart kan wees.
Sendingwerk is steeds uitdagend,
maar moontlik minder ingewikkeld as wat ek van tevore gedink het. Wat 'n wonderlike les het ek nie geleer
nie!
Besoek aan Suid-Afrika. Ons beplande besoek aan Suid-Afrika na twee
volle jare in Japan, word beplan vanaf 16 Julie tot 28 Oktober 2021.
Soos met alle dinge, is daar ‘n
hele paar uitgawes en benodighede wat gepaard gaan met so 'n besoek. Ons wil graag elke gemeente en individuele
ondersteuner graag vra om biddend te oorweeg om by te dra tot ons finansiële en
ander behoeftes terwyl ons in Suid-Afrika is.
Benodighede vir ons Suid-Afrika
2021 deputasie: 'n Betroubare Voertuig
wat geskik is vir langpad (16 Julie - 28 Oktober). Bydraes vir ons PCR-sertifikaat (Covid-19
toetse) om te bewys dat ons negatief getoets het vir die virus. Hierdie toetse in Japan is ongeveer
R4000/pp. Die PCR-toets is baie
goedkoper in Suid-Afrika, ongeveer R800/pp.
Beide van ons moet die PCR-toetse doen voor ons Suid-Afrika toe vertrek
en dan weer voor ons terug keer na Japan.
'n Borg(e) vir ons bemarking materiaal, byvoorbeeld pamflette, magnete
en boekmerke met inligting en gebedsversoeke.
Algemene borge vir, byvoorbeeld vlug kaartjies en vervoer uitgawes. Ons sien uit om elkeen van julle weer te sien
en met julle ons afgelope 2 jaar se ervaringe te deel.
Byvoorbaat baie dankie vir julle hulp, ons waardeer dit
opreg.